Totale Knievervanging

Wat is 'n totale knievervanging?

'n Totale knievervanging is 'n chirurgiese prosedure waar die aangetaste kraakbeen en been van 'n kniegewrig vervang word met kunsmatige komponente. Die kniegewrig word gevorm deur die onderste punt van die femur (dybeen) en die boonste punt van die tibia (skeenbeen). Tydens 'n totale knievervanging word die punt van die femurbeen verwyder en vervang met 'n metaaldop (beensement word gebruik om die metaaldop in plek te hou).

Die punt van die skeenbeen (tibia) word ook verwyder en vervang met 'n tibiale skyf (beensement word gebruik om die metaal tibiale skyfie in plek te hou). 'n Plastiek komponent (poliëtileen-HCLPE) word vasgeknyp aan die tibiale skyf en dien as 'n verbindende oppervlak tussen die femorale metaaldop en die tibiale skyf. As die kraakbeen van die patella (knieskyf) ook aansienlik beskadig is, word 'n plastiekskyfie (HCLPE) gebruik om die aangetaste kraakbeen te vervang.

Watter pasiënte moet 'n totale knievervanging oorweeg?

Totale knievervanging-chirurgie word oorweeg in gevalle waar pasiënte se kniegewrigkraakbeen en -been deur osteoartritis beskadig is. Osteoartritis van die knie kan veroorsaak word deur gevorderde ouderdom (slytasie) of sommige pasiënte mag 'n genetiese predisposisie vir osteoartritis hê. Dit word primêre osteoartritis genoem.

Osteoartritis kan ook sekondêr veroorsaak word deur ander toestande soos trauma, infeksies, avaskulêre nekrose, knieligament tekortkominge en inflammatoriese artritis (soos jig en rumatoïede artritis).

Wanneer die osteoartritis, ongeag die oorsaak, lei tot voortdurende kniepyn wat die pasiënt se kwaliteit van lewe en funksie beïnvloed, kan die pasiënt 'n kandidaat vir 'n knievervanging wees. Pyn is die enkel belangrikste aanduiding vir chirurgie. Ander minder belangrike aanduidings is knie-misvormdheid en knie-styfheid.

Wat is die risiko's van 'n totale knievervanging?

Spesifieke komplikasies by knievervangings:

  • Bloedklonte in die are van die onderste ledemate (bekend as diepvenatrombose of DVT)
  • Hierdie bloedklonte kan na die longe beweeg, dit staan bekend as 'n Pulmonêre Embolisme of PE. Alhoewel seldsaam, kan 'n PE asemnood en dood veroorsaak.
  • Knie-ontwrigting (onstabiliteit)
  • Infeksies (oppervlakkige wondinfeksie of diepliggende infeksie wat betrekking het op die knievervanging)
  • Littekens en beperking van die omvang van die kniebeweging
  • Aanhoudende pyn ten spyte van die knievervanging
  • Heterotopiese ossifikasie - nuwe beenvorming in die spiere rondom die knie
  • Losgaan van die knievervangingskomponente
  • Bloeding
  • Narkoseverwante komplikasies soos hart-aritmieë, beroerte, lewertoksisiteit, longontsteking en dood

Wat is die voorbereidings wat nodig is vir die proses?

Die preoperatiewe evaluering bevat gewoonlik 'n oorsig van alle medikasie wat deur die pasiënt geneem word. Anti-inflammatoriese medisyne, insluitende aspirien, word dikwels een week voor chirurgie gestaak weens die effek van hierdie medikasie op bloedplaatjiefunksies en bloedstolling.

Ander preoperatiewe evaluasies sluit in, volledige bloedtellings, elektroliete (kalium, natrium, chloried), bloedtoetse vir nier- en lewerfunksies, urinalise, bors X-straal, EKG, MRSA- (Metisillien-Resistente Stafilokokkus Oureus) -sifting en 'n fisiese ondersoek. U dokter sal bepaal watter van hierdie toetse benodig word, gebaseer op u ouderdom en mediese toestande. Enige aanduidings van infeksie, ernstige hart- of longkwale of aktiewe metaboliese steurnisse soos onbeheerde diabetes, kan daartoe lei dat die knievervangingsoperasie uitgestel of die proses vertraag word. In sulke gevalle sal 'n spesialis-dokter gevra word om die pasiënt te sien ten einde die mediese toestande voor chirurgie te optimaliseer.

Totale knievervanging kan bloedverlies tot gevolg hê. Pasiënte wat beplan om 'n totale knievervanging te ondergaan, sal dikwels hul eie (outoloë) bloed skenk vir transfusie tydens die operasie. Indien 'n bloedoortapping nodig is, sal die pasiënt die voordeel hê dat sy of haar eie bloed beskikbaar is, en sodoende die risiko's verbonde aan 'n bloedoortapping verminder.

Oortollige liggaamsgewig kan 'n risikofaktor wees vir infeksie, verhoogde intra-operatiewe bloedverlies, diepvenatrombose / pulmonêre embolieë, kniestyfheid en aanhoudende kniepyn na afloop van die operasie. Hierdie pasiënte kan ook 'n baie stadiger postoperatiewe rehabilitasie herstelperiode hê. As dit moontlik is, moet pasiënte met 'n oormaat liggaamsgewig 'n gewigsverliesprogram oorweeg om die risiko's van chirurgie te verminder.

Wat sal herstel vir die pasiënt inhou na afloop van die operasie?

'n Totale knievervangingsoperasie duur ongeveer twee tot vier uur. Die voorafgaande voorbereidings mag ekstra tyd in beslag neem. Na die operasie word die pasiënt na 'n herstelkamer geneem vir onmiddellike waarneming wat gewoonlik vanaf een tot vier ure duur. By stabilisering word die pasiënt oorgeplaas na 'n hospitaalkamer of intensiewe sorgeenheid.

Gedurende die onmiddellike herstelperiode word pasiënte binneaarse vloeistowwe toegedien. Binneaarse vloeistowwe is belangrik om 'n pasiënt se elektrolietbalans te handhaaf en enige vloeistowwe wat tydens die operasie verlore gaan, te vervang. Met dieselfde drup kan antibiotika sowel as pynmedikasie toegedien word. Pasiënte sal ook buise sien wat vloeistof uit die chirurgiese wondplek afvoer. Die hoeveelheid en aard van die dreinering is belangrik vir die dokter en kan noukeurig deur die verpleegster gemonitor word. 'n Wondverband word in die operasiekamer opgesit en moet vir 2 weke in posisie gehou word. Die wondverband sal vroeër vervang word slegs as die wond dra of die verbande loskom.

Pynmedikasie word algemeen toegedien deur middel van 'n pasiënt-beheerde analgesie (PBA) waardeur pasiënte hulle eie dosis medikasie, soos benodig, kan toedien. Pynmedikasie kan soms aanleiding gee tot naarheid en braking. 'n Naarheidteenmiddel kan dan toegedien word.

Maatreëls word getref om bloedklonte in die onderste ledemate te voorkom. Pasiënte sal na die operasie met drukkouse (TED-kouse) voorsien word. Kompressiepompe word dikwels ook gebruik, wat help deur bloedsomloop in die bene te forseer. Pasiënte word aangemoedig om die onderste ledemate aktief te oefen om aarvloei in die onderste ledemate te verhoog en sodoende bloedklonte te voorkom. Medikasie word gegee om die bloed te verdun en sodoende bloedklonte verder te voorkom.

Pasiënte mag ook probleme ondervind met urinering. Hierdie probleem kan 'n newe-effek wees van pynmedikasie. Kateters word gevolglik dikwels in die blaas geplaas om normale urinale vloei te verseker.

Onmiddellik na die operasie word pasiënte aangemoedig om gereelde asemhalingsoefeninge te doen en te hoes om longkongestie, asook die platval van klein lugweë in die longe, te voorkom. Pasiënte kry ook 'n "blaasbottel", waardeur die lugweë oopgehou word deur aktief teen weerstand te blaas.

Totale knievervangings feite

  • Die prostese vir 'n total knievervanging sluit in 'n femorale metaaldop, tibiale metaalskyf en 'n plastiekskyfie-hervlakking van die patella (knieskyf).
  • Chroniese pyn en inkorting van die daaglikse funksie van pasiënte met ernstige knie-artritis is redes waarom behandeling met 'n totale knievervanging oorweeg word.
  • Komplikasies en risiko's van totale knievervanging-chirurgie word geïdentifiseer en sal in detail met u bespreek word.
  • Pre-operatiewe bloedbankdienste vir pasiënte wat totale knievervanging beplan, word oorweeg waar moontlik. Hierdie bloed kan gebruik word vir transfusie indien nodig (outoloë transfusie).
  • Fisioterapie is 'n noodsaaklike deel van rehabilitasie na 'n totale knievervanging.
  • Dit word meestal aanbeveel dat pasiënte met kunsmatige gewrigte antibiotika neem voor, tydens en na enige elektiewe, indringende prosedure.

Hoe sal die pasiënt aanhou herstel as 'n buitepasiënt, na ontslag uit die hospitaal? Wat is aanbevole oefeninge?

Vir 'n optimale uitkoms na die totale knievervanging-chirurgie, is dit belangrik dat pasiënte 'n buitepasiënt-fisioterapieprogram volg asook tuisoefeninge doen tydens die genesingsproses. Pasiënte sal gevra word om aan te hou om die spiere rondom die vervangde gewrig te oefen om littekens (en kontrakture) te voorkom en spierkrag te handhaaf om gewrigstabiliteit te verseker. Hierdie oefeninge, na afloop van die operasie, kan hersteltyd verminder en lei tot optimale krag en stabiliteit.

Die wond sal deur Dr. Solomon en die wondsuster gemonitor word. Pasiënte moet op die uitkyk wees vir tekens van infeksie, insluitend abnormale rooiheid, verhoogde hitte, swelling of ongewone pyn. Dit is belangrik om enige besering aan die gewrig onmiddellik aan Dr. Solomon te rapporteer.

Toekomstige aktiwiteite word gewoonlik beperk tot dié wat nie die vervangde gewrig sal beseer nie. Sporte wat hardloop en kontak insluit, moet vermy word. Sporte soos gholf en swem word aanbeveel. Swem is die ideale vorm van oefening aangesien die sport spierkrag en uithouvermoë verbeter sonder om enige druk of spanning op die vervangde gewrig te plaas.

Pasiënte met gewrigsvervangings moet hul dokters en tandartse waarsku dat hulle 'n kunsmatige gewrig het. Hierdie gewrigte loop die risiko van infeksie deur bakterieë wat toegang verkry deur enige indringende prosedures soos chirurgie, tandheelkundige- of tandvleisprosedures, urologiese- en endoskopiese prosedures, asook vanaf infeksies elders in die liggaam.

Die behandelende geneesheer sal gewoonlik antibiotika voor, tydens en onmiddellik na enige elektiewe prosedure voorskryf om infeksie van die vervangde gewrig te voorkom.

Alhoewel seldsaam, kan pasiënte met totale knievervangings jare later 'n tweede operasie benodig. Die tweede operasie mag nodig wees as gevolg van die losgaan van, breuk van of ander komplikasies met die vervangde gewrig. Heroperasies is oor die algemeen nie so suksesvol as oorspronklike operasies nie en dra hoër risiko's van komplikasies. Toekomstige vervangingstoestelle en -tegnieke sal uitkomste vir pasiënte verbeter en tot minder komplikasies lei.

Mediese Vrywaring

Die inligting op hierdie webwerf is nie bedoel om 'n plaasvervanger vir professionele mediese advies, diagnose of behandeling te wees nie. Alle inhoud, insluitende teks, grafika, beelde en inligting, wat op hierdie webwerf vervat word of beskikbaar gestel word, is slegs vir inligtingsdoeleindes. Ons maak geen voorstellings nie en aanvaar geen verantwoordelikheid vir die akkuraatheid van inligting wat op hierdie webwerf vervat word of beskikbaar gestel word nie. Hierdie inligting is onderhewig aan verandering sonder kennisgewing. U word aangemoedig om enige inligting wat vanaf of deur hierdie webwerf verkry word met ander bronne te verifieer en om alle inligting rakende enige mediese toestand of behandeling met u dokter te bevestig. MOET NOOIT PROFESSIONELE MEDIESE ADVIES VERONTAGSAAM OF NALAAT OM MEDIESE BEHANDELING TE VERKRY AS GEVOLG VAN INLIGITNG WAT U VANAF OF DEUR HIERDIE WEBWERF INGEWIN HET NIE.

Dr. CT SOLOMON

FCS (Orth) SA, MBChB (Stell),
Bsc (hons) (Sport Med)

Pr. No. 0760897

Ons Adres

Suite 209 Cape Gate Medi Kliniek,
C/O Okavango & Tanner Pad,
7560, Brackenfell,
Kaapstad

Kontak Ons

Tel: 021 981 4666
Faks: 086 506 0727
Noodgevalle: 021 983 5911
TOP