ANTERIOR KRUISLIGAMENT (AKL) BESERINGS

Wat is die AKL?

Die AKL is 'n baie sterk ligament aan die binnekant van die knie. Dit strek van die femur (dybeen) sywaarts af na die Tibia (skeenbeen). Die AKL verhoed dat die tibia (skeenbeen) vorentoe beweeg in verhouding tot die femur (dybeen). Die AKL het 'n belangrike funksie om die femur en tibia te stabiliseer en te verhoed dat die knie "meegee".

Dit is veral belangrik vir knie-aksies soos systap in sport, draai- en springaksies. As die AKL beseer word en die knie meegee (onstabiele knie), kan ander strukture in die knie, soos been, kraakbeen en meniskus, ook beseer word.

Hoe word die AKL beseer?

Die AKL word meestal beseer tydens die beoefening van sport met draaiing of systap aksies. Die AKL kan ook beseer word deur 'n direkte hou op die knie of deur uiterste fleksie (buiging) of ekstensie (reguit maak) van die knie.

Wat gebeur met die knie wanneer die AKL skeur?

'n Knal- of klapgeluid mag gehoor word, gevolg deur intense kniepyn en swelling. Dit sal te pynlik wees om gewig op die aangetaste onderste ledemaat te dra. Die swelling en pyn kan 'n paar dae tot weke neem om te herstel, maar sodra 'n draaibeweging of systap gedoen word, mag u voel dat die knie onstabiel is, wat weer aanleiding mag gee tot verdere pyn en swelling.

Wat gebeur met die knie wanneer die AKL skeur?

Hoe word 'n AKL-besering gediagnoseer?

'n X-straal van die knie is altyd die eerste ondersoek wat gedoen moet word. Breuke, kraakbeenskade en vog in die knie kan op X-strale gesien word. X-strale kan ook geringe tekens van 'n AKL-ontwrigting toon. (bv. tweede fraktuur)

MRI: 'n MRI van die knie is die goudstandaard-ondersoek om 'n AKL-besering te diagnoseer. Ligament-, meniskus-, kraakbeen- en beenbeserings kan ook op 'n MRI gesien word. Dit is belangrik aangesien 'n AKL-besering selde in isolasie plaasvind.

Knie-artroskopie: AKL beserings kan gediagnoseer word met 'n knie artroskopie (kamera in die knie). Dit word gewoonlik gedoen as 'n MRI-skandering nie beskikbaar is nie.

Kan 'n AKL-besering nie-chirurgies behandel word?

Nie almal het 'n ongeskonde AKL nodig nie. Die meeste ouer, onaktiewe individue wat nie aan sport deelneem nie, kan volkome gelukkig wees sonder 'n AKL-ligament. As jy egter jonk is en 'n sport beoefen waar spring-aksies nodig is, sal jy 'n AKL-rekonstruksie benodig.

'n Knie sonder 'n AKL, is 'n onstabiele knie wat kan meegee. Hierdie meegee-episodes veroorsaak interne beskadiging aan die knie en kan lei tot vroeë osteoartritis van die knie, wat op sy beurt weer op 'n vroeë ouderdom 'n knievervanging tot gevolg mag hê.

Wat is die chirurgiese behandeling van 'n AKL-gebrekkige knie?

Die AKL-ligament is een van die sterkste ligamente in die liggaam en is daarvoor verantwoordelik om groot kragte in die knie te weerstaan tydens draai-, systap- en spring-aksies. 'n AKL-besering sal nie vanself genees nie en 'n geskeurde AKL-ligament kan nie bloot geheg word nie. Die geskeurde AKL-ligament word verwyder en 'n ander ligament (gewoonlik geneem van elders in die liggaam) word gebruik om 'n nuwe AKL-ligament te vorm. Dit word artroskopies gedoen (deur klein openinkies in die knie met behulp van 'n kamera).

Die nuwe ligament (bekend as 'n ent) kan óf 'n outoënt (met jou eie weefsel) of alloënt (weefsel van 'n kadawer) wees.

Die Outoënt (mees algemeen gebruikte) opsies is:

1. Dyspiere (Gracilis en Semitendinosus)
'n Gedeelte van die dyspier word deur 'n klein insnyding aan die binnekant van die knie geoes. Dit is 'n uitstekende ent en geen swakheid van die dyspiere word hierdeur veroorsaak nie.

2. Been-patella-been
Die middelste derde van die patella-tendon word saam met 'n klein stukkie been van die knieskyf (patella) en skeenbeen (tibia) geoes. Dit is ook 'n uitstekende ent, maar kan lei tot pyn in die knieskyf en, in seldsame gevalle, knieskyf-frakture.

3. Vierkopspier (Quadriceps)
'n Klein strook van die vierkopspier-tendon word geoes en gebruik om die AKL-ligament te rekonstrueer. Dit is ook 'n uitstekende ent.

Alloënte:
Hierdie ente is ook uitstekend. Omdat die weefsel nie uit jou eie liggaam geneem word nie, is die chirurgiese tyd korter. Hierdie weefsels word gesif vir infeksies soos hepatitis en MIV. Die risiko dat infeksies opgedoen kan word van alloëntings, is uiters laag.

Wat is die komplikasies van Chirurgie?

Komplikasies wat verband hou met AKL-operasies sluit in, knie-styfheid, verlengde kniepyn, voortgesette AKL-onstabiliteit en die skeur van die nuwe AKL-ligament.

Komplikasies wat algemeen is tot alle chirurgie sluit in, infeksie, bloeding, senuweeskade, bloedklonte (DVT) of probleme met narkose.

Wat gebeur ná die operasie?

Na die operasie sal die fisioterapeut u besoek om die postoperatiewe rehabilitasieprogram met u te bespreek. U sal voorsien word van krukke en 'n kniestut. U sal 'n dik verband om u knie hê. Gewoonlik kan pasiënte dieselfde dag of die volgende dag huis toe gaan indien dit nie nodig is vir pynbeheer deur die dokter nie.

Na ontslag sal ons u kontak met 'n datum, twee weke na die operasie, om die wondsuster te sien. Onmiddellik nadat u die wondsuster gesien het, sal u die fisioterapeut (Barnard en Van Wyk Physios) sien. Hierdie afsprake sal deur ons Ontvangsdame vir u gereël word. Dit is belangrik dat die verbande skoon en droog gehou word totdat u die wondsuster tydens u 2-weke afspraak sien. As u enige besorgdheid het oor u wonde (swelling, rooiheid, pyn of sig van etter), kontak asseblief die kamers.

Die fisioterapeute sal opvolgafsprake met u reël.

U sal Dr Solomon ses weke na die operasie weer sien om u vordering te evalueer. As daar, voor dan, enige probleme is, moet u sy kamers kontak.

U ontslagmedikasie sal pynmedikasie insluit asook bloedverdunners om bloedklonte te voorkom.

U word aangemoedig om ys op u wonde te plaas, elke uur vir 30 minute lank, so dikwels as wat u kan vir die eerste twee weke.

Mediese Vrywaring

Die inligting op hierdie webwerf is nie bedoel om 'n plaasvervanger vir professionele mediese advies, diagnose of behandeling te wees nie. Alle inhoud, insluitende teks, grafika, beelde en inligting, wat op hierdie webwerf vervat word of beskikbaar gestel word, is slegs vir inligtingsdoeleindes. Ons maak geen voorstellings nie en aanvaar geen verantwoordelikheid vir die akkuraatheid van inligting wat op hierdie webwerf vervat word of beskikbaar gestel word nie. Hierdie inligting is onderhewig aan verandering sonder kennisgewing. U word aangemoedig om enige inligting wat vanaf of deur hierdie webwerf verkry word met ander bronne te verifieer en om alle inligting rakende enige mediese toestand of behandeling met u dokter te bevestig. MOET NOOIT PROFESSIONELE MEDIESE ADVIES VERONTAGSAAM OF NALAAT OM MEDIESE BEHANDELING TE VERKRY AS GEVOLG VAN INLIGITNG WAT U VANAF OF DEUR HIERDIE WEBWERF INGEWIN HET NIE.

Dr. CT SOLOMON

FCS (Orth) SA, MBChB (Stell),
Bsc (hons) (Sport Med)

Pr. No. 0760897

Ons Adres

Suite 209 Cape Gate Medi Kliniek,
C/O Okavango & Tanner Pad,
7560, Brackenfell,
Kaapstad

Kontak Ons

Tel: 021 981 4666
Faks: 086 506 0727
Noodgevalle: 021 983 5911
TOP